
Bobby van Jaarsveld
Hierdie blou-oog-lieflingseun van die Suid-Afrikaanse musiekgemeenskap het geen bekendstelling nodig nie. Bieliemielie-feesgangers het voorheen reeds die voorreg gehad om op maat van Bobby se treffers te dans en elkeen van sy treffers saam te sing. Bobby het die Afrikaanse musiektoneel as 17-jarige getref en is sedertdien met talle toekennings bekroon. Hy het die vermoë om die een na die ander treffer te skryf en op te neem en het ook al sy vlerke gesprei om in flieks te speel en deel te wees van TV-reekse.
Vrydag 27 Februarie – 19:00
Arena

Demi Lee Moore
Teen die tyd dat Demi Lee in 2018 as die wenner van die sangkompetisie Die Kontrak aangewys is, het hierdie country-pop-ster reeds diep in Suid-Afrikaners se harte gekruip met haar besonderse stem en sangstyl. Niks het sedertdien verander nie. Sy ryg die treffers die een na die ander in. Demi Lee het vroeër vanjaar nog ‘n mylpaal behaal toe sy as die eerste Afrikaanse vroulike kunstenaar aangewys is om deel te wees van Spotify se Equal Africa-veldtog. Dié veldtog is daarop gemik om vroulike kunstenaars in Afrika te bemagtig en hul musiek wêreldwyd te bevorder.
Vrydag 27 Februarie – 20:00
Arena

Juan Boucher
Die kontemporêre Afrikaanse popmusikant Juan Boucher vertel Suid-Afrikaanse stories met ‘n heserige stem wat die hartsnare roer en waarmee ‘n mens jou so maklik kan vereenselwig. Hy sê sy liefde vir musiekmaak kom uit sy kinderjare reeds toe hy homself op die plaas waar hy grootgeword het, geleer kitaar speel het.
Hy het sy debuutalbum in 2013 opgeneem en mettertyd sy voete stewig in die pop-rock-genre staangemaak. Of dit nou in opregte liefdesliedjies is of unieke Suid-Afrikaanse stories, Bouchers gryp ‘n mens se hart aan.
Vrydag 27 Februarie – 21:00
Arena

Sunset Sweatshop
Bieliemielie-feesgangers ken dié vyfmanskap al goed en weet presies wat ‘n lekker gees hulle aan enige geleentheid verleen. Sedert 2016 ken Suid-Afrikaners hulle vir hulle lewendige mengsel van ghoema-rock, reggae, funk, soul en folk in hul liedjies waarop geen mens kan stilsit en net luister nie – hulle aansteeklike energie dwing jou op jou voete en die heupe aan die wikkel. Hul naam het ontstaan weens die feit dat hulle almal voltydse beroepe gehad het, maar wanneer hulle ná werk by die huis kom, begin hulle saam musiek maak. “So, wanneer die son ondergaan, begin ons werk en sweet,” sê hulle.
Saterdag 28 Februarie – 19:00
Arena

Ricus Nel
As die liedjies “Hardekole” en “Boerepompie” onmiddellik in jou kop speel wanneer jy dié name hoor, is jy waarskynlik reeds ‘n aanhanger van die country-rock-ster Ricus Nel, wat op vierjarige ouderdom reeds die tromme kon bespeel. Vandag is hy bekend daarvoor dat hy benewens sy gerusstellende stem ook nog 13 musiekinstrumente kan inspan om die mooiste musiek vorendag te bring. En dan skryf hy boonop die een treffer na die ander self. Ricus het op skool reeds by sy pa se boereorkes aangesluit om sy talente te slyp.
Saterdag 28 Februarie – 20:00
Arena

Die Piesangskille
Met ‘n naam soos Die Piesangskille was hierdie tweeman-groep, bestaande uit Daniël Marais en Johan Balt, verseker daarvan dat hulle die verbeelding sou aangryp toe hulle as studente aan die Noordwes-Universiteit hul groep gestig het. Met “Mal Maandagaande”, hul heel eerste treffer, het hulle seker gemaak dat hulle nié net vir hul vreemde naam onthou sal word nie. Hulle verwys na hul unieke musiekstyl as “die piesang-genre” omdat hulle self nie weet in watter genre dit werklik val nie. Hulle fokus op die woorde en speel rond met die melodieë in ‘n poging om altyd uniek te bly, sê hulle oor hulself.
Saterdag 28 Februarie – 21:00
Arena

DJ CRAZY
“Daar is vir my niks so lekker soos om mense vir vyf minute of vyf ure lank te laat vergeet van alles waarvan hulle graag wíl vergeet nie. Dit is wat ek met musiek regkry.” So sê DJ Crazy, ‘n boorling van Reitz wat vir baie jaar reeds deel is van die Bieliemiefees. Vir meer as 20 jaar lank al plaas hy ’n glimlag op gesigte en besige voete op die dansvloer. As 16-jarige het hy die eerste keer tydens ’n privaat funksie met ’n boks vol CD’s opgedaag en gesorg dat die partytjiegangers op die dansvloer boer op die ritme van ’n wye verskeidenheid musiek, en vanjaar maak hy weer so op die Bieliemielie-feesverhoog.

