TOMMY DELL EN BARBARA RAY
As sanger, kabaretkunstenaar, radio-omroeper en komediant het Tommy Dell 11 goue albums en vier platinum-CD’s op sy kerfstok. Barbara Ray is die “koningin van countrymusiek” in Suid-Afrika. Sy het in die middel 60’s uit Skotland in Suid-Afrika aangekom en is sedertdien ’n huishoudelike naam.
Donderdag 22 Februarie – 19:00
Arena
PROP
Dit was uiteindelik tyd vir Prop om homself in die musiekbedryf in te prop. Hy het as kitaarspeler saam met Robbie Wessels getoer en ook in Robbie se films verskyn. Hy het homself as ’n liedjieskrywer gevestig en het al liedjies geskryf vir kunstenaars soos Laurika Rauch. Prop is nie net ’n musikant en ’n gekwalifiseerde argitek nie, hy is ook ’n inspirasie vir almal, ten spyte van skeletale-gestremdheid se uitdagings.
Donderdag 22 Februarie – 20:00
Arena
ADAM TAS
Met sy nuutste album, Patatas en pyptabak, bring die tripel-platinum-skrywer en sanger Adam Tas nog ’n meesterstuk uit. Die stories van ’n land en sy mense was lanklaas so mooi verwoord en getoonset. Adam Tas bekoor gehore al sedert 2003 nadat hy tevore in restaurante en kuierplekke in die Pretoria-omgewing opgetree het. Sedert sy eerste album reeds het Suid-Arikaners verlief geraak op hierdie sanger met sy ryke stem en die lewensinsig wat hy in sy liedjies toon. Kom luister na dié storieverteller uit die bosveld en maak jou tuis onder die woorde van sy asem.
Donderdag 22 Februarie – 21:00
Arena
SAMANTHA LEONARD
Die wenner van Die Kontrak Seisoen 2 en boorling van Kimberley se drome was nog altyd groter as die lewe self. Die nagtegaal het al op driejarige ouderdom begin sing en sy het toe al geweet dit is wat sy die res van lewe wil doen. Sy is dankbar om haar eertse liefde en beroep as musikant te kan uitleef.
Vrydag 23 Februarie – 18:30
Arena
BOK VAN BLERK
15 jaar gelede het Bok van Blerk een van die grootste snitte in Afrikaans vrygestel. Die oomblik toe “De La Rey” die klankgolwe getref het, het hy die hele land aan die gons gehad. Vir Afrikaanse mense het dit ’n gevoel van trots aangewakker. Bok weet presier hoe om die Afrikaner se liefde vir sy land te verwoord en kaartjies vir sy optredes is altyd uitverkoop. Hy het die vermoë om patriotisme, patos en passie perfek met ’n tikkie humor te meng.
Vrydag 23 Februarie – 19:30
Arena
ELOFF
Brandon Eloff of net Eloff, soos hy in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf bekend staan, het sy aanhangers aan die gons gehad met sy eerste enkelsnit “Johnnie Blou”. Dié 22-jarige musikant is oorspronklik van Greenhills maar bly nou in Potchefstroom waar hy tans BA Regte met bedryfsielkunde studeer. Hy vertel dat hy al vir die afgelope vier jaar vurig besig is om op musiek te fokus, maar hy skryf al sy hele lewe lank musiek. Eloff beskou sy doelwitte in die musiekbedryf om sy aanhangers te leer ken wat hom gebring het tot waar hy is, om op die verhoog te staan en te hoor hoe mense sy liedjie saamsing, en om op ’n klomp verskillende plekke in Suid-Afrika te kan optree.
Vrydag 23 Februarie – 20:30
Arena
EARLY B
Early B sal vir die derde jaar by die Vkb Bieliemieliefees optree omdat ons gemeenskap hom elke keer weer terug op die verhoog wil hê! Hierdie sanger het die vermoë om almal op hul voete te kry en die lywe saam met hom te swaai. Sy sin vir humor en sy vaardigheid as storieverteller maak hom fees na fees ’n gunsteling.
Vrydag 23 Februarie – 21:30
Arena
JUANITA DU PLESSIS
Juanita du Plessis het geen bekendstelling nodig nie! “Ska-Ruma” het die toon aangegee vir die liefdjies wat daarop uit hierdie Namibiese countrysanger se pen gevolg het en haar aanhangers sorg dat haar albums altyd op die ranglys van gewildstes boer. Sy vermaak sedert 1998 al Suid-Afrikaanse gehore en is ewe gewild as gospel-sanger.
Saterdag 24 Februarie – 19:00
Arena
BARTO
Barto het groot opskudding gemaak in die musiekbedryf met ’n emosiewekkende stem en sy enkelsnit “H2Oë” wat reeds Goud behaal het. Dit neem hom van “open mic”-geleenthede en musiekfeeste na groter verhoë regoor die land met sy treffers wat ook “Impulsief” insluit. Hy is terug met sy derde enkelsnit “Vlam in die wind” Sy musiek is opbouende volksmusiek met ’n tradisionele Boere-tint wat sekerlik die tienerpols aan die gang sal kry.
Saterdag 24 Februarie – 20:00
Arena
DODO NYOKA
Dodo Nyoka, die naaswenner van Die Kontrak Seisoen 2 en die nuutste gesig in Afrikaans, is tans een van die mees energieke kunstenaars op die toneel. Sy vertonings is aansteeklik en gehoorgangers het ’n goeie tyd wanneer dié opwindende kunstenaar die verhoog betree. Sy konserte maak opslae en behalwe die publiek, kan agente en konsertorganiseerders nie genoeg van dié jong kunstenaar kry nie. Dodo het baie vinnig aanklank gevind by gehore met sy eerlike, opregte en oop geaardheid. Mense voel sy hart wanneer hulle met hom gesels en sy musiek praat met die Afrikaanse gehore. .
Saterdag 24 Februarie – 21:00
Arena
DROOMSINDROOM
Die broer-duo, Droomsindroom (Kirsten en Kyle Schlebusch) wil luisteraars van hul probleme laat vergeet. Hul liedjies “Hey Sonneblom” is ’n goedvoelliedjie en die sonneblom waarna daar verwys word is ’n metafoor vir die persone in elkeen van ons se lewe wat somer én sonskyn gedurende jou donkerste tye inbring, het Kirsten vertel. Kirsten is die oudste van die twee broers en het geen bekendstelling in die Afrikaanse musiekbedryf nodig nie. Hy het veral bekendheid verwerf met sy enkelsnit, “Mia”, wat hy in 2019 vrygestel het. Kyle is tans op skool maar ewe opgewonde oor sy en sy broer se nuwe opwindende reis. “Ek dink mense is lus om weer bietjie gelukkig te wees. Mense wil dans, kuier, lief hê en weer bietjie iets voel. Dit is wat ons graag met hierdie lied vir mense wil gee,” het hy gesê.
Saterdag 24 Februarie – 22:00
Arena
DJ CRAZY
Ryno Steyn is al vir die afgelope 21 – jaar in die musiekbedryf. Die bekende DJ Crazy het in 2023 sy debut enkelsnit vrystel, op alle bekende musiekplatforms ‘n verwerking deur homself. Hy deel gereeld die verhoog met groot name in die musiekindustrie. Kom sluit elke dag, na die vertonings, saam hom in die kuiertuin af.
Donderdag tot Saterdag na kunstenaars
Kuiertuin
DANIE BOTHA
Danie Botha is ’n Suid Afrikaanse sanger wat veral geestelike liedere sing. Hy is ook in die bediening, en sy boodskappe is altyd treffend.