VKB Bieliemieliefees 2024 bied 100de redes om Reitz te besoek

Reitz in die Oos-Vrystaat maak weer gereed om duisende mense vir die 2024 VKB Bieliemieliefees te ontvang en hulle op die eiesoortige gasvryheid van die streek te trakteer én boonop te sorg dat daar nie net iéts vir almal is nie, maar sommer báie pret en vermaak te verskaf.

Die feesterrein se hekke open om 12:00 op Donderdag, 22 Februarie, en word eers weer Sondagmiddag toegemaak nadat almal opgepak en uitgekuier is.

Die Bieliemieliefees het homself reeds gevestig as een van die grootste en gewildste landbouskoue in die land. En dis nie verniet dat dit jaarliks deur meer as 20 000 mense besoek word nie. Hier word van die heel nuutste landboutoerusting en -tegnologie ter waarde van R60 miljoen uitgestal, wat boere van twee tot 80 jaar oud se oë laat skitter. Boere kry ook die geleentheid om te spog met hul heel beste vee in die kudde- en slaglamkompetisie, die beesuitstalling en die ramveiling.

Maar dié fees is nie uitsluitlik vir landbouprodusente nie. Hier volg net ‘n voorsmakie:

Kom ons begin by die verhoogoptredes, want die kunstenaars wat jaarliks genooi word om hier op te tree, word altyd sorgvuldig met die hand uitgesoek.

Vanjaar is daar 13 topkunstenaars wat optree en elkeen gaan feesgangers op hul voete hê. Ons praat hier van Juanita du Plessis, Bok van Blerk, Adam Tas, DJ Crazy, Early B, Droomsindroom, Tommy Dell, Barbara Rey, Samantha Leonard en Dodo Nyoka – die wenner en naaswenner van Die Kontrak se tweede seisoen 2 – en dan Eloff en ook Prop.

Danie Botha, bekend as die sanger van die immergewilde “Wenners, wenners, wenners wil ons wees” is ook ’n baie geliefde prediker en sal Sondag se dankseggingsdiens in die NG Moedergemeente, Reitz die fees afsluit.

Daar gaan natuurlik ook die volle spektrum kompetisies wees. Met van potjiekos, draadkarre, boomversierings, boeresport en Bulletjie-rugby en netbal, tot bergfietsry, hengel, gholf, die marathon en nog vele meer, moet deelnemers hul staal uithaal en wys om in aanraking te kom vir die wonderlike pryse.

Dis nou benewens vertonings deur perde en honde asook ’n lugvertoning wat aangebied gaan word.

Daar word baie beslis voorsiening gemaak vir allerlei bedrywighede waarmee die kleinspan besig gehou kan word sodat die hele familie die fees kan geniet. Hulle kan aan ’n verskeidenheid diere kom vat en vryf in die “petting zoo”, kameel en stampkarre ry, verborge skatte soek, in die pretpark gaan rondswaai, en nog vele meer.

Van die kuiertent tot die kosstalletjies, die interessante stalletjies waar van hommeltuie tot kamoefleerserpe, parfuum en fudge gekoop kan word, elke deelnemer aan die fees is daar om óf plesier te verskaf, óf om die fees te geniet.

Maak dus seker jy hou die naweek van 22 tot 25 Februarie oop en bespreek sommer nou al oorslaapplek, want dis moeilik om hiervandaan te vertrek as die fees nog aan die gang is.

 
 

Kontak Ons

Voorsitter / Borge / Kunstenaars
083 303 6117

Uitstallers / Algemene navrae / Kampering
083 395 2640

Uitstallers
083 298 9435